Skip Navigation
The Endowment for Human Development
The Endowment for Human Development
Improving lifelong health one pregnancy at a time.
Donate Now Get Free Videos

Multilingual Illustrated DVD [Tutorial]

The Biology of Prenatal Development




DIE VOORGEBOORTELIKE ONTWIKKELINGSPROSES

.Afrikaans


National Geographic Society This program is distributed in the U.S. and Canada by National Geographic and EHD. [learn more]

Choose Language:
Download English PDF  Download Spanish PDF  Download French PDF  What is PDF?
 

Chapter 1   Introduction

Die dinamiese proses waartydens 'n een-sellige menslike sigoot in 'n volwassene met 100-triljoen selle verander, is seker een van die merkwaardigste natuurlike verskynsels denkbaar.

Navorsing het getoon dat baie van 'n volwassene se roetine-liggaamsfunksies reeds gedurende swangerskap gevestig word - dikwels lank reeds voor geboorte.

Die ontwikkelingstadium voor geboorte word al hoe meer as 'n voorbereidingstydperk verstaan. Die ontwikkelende mens verwerf tydens hierdie periode baie van die strukture, en oefen talle van die vaardighede, wat vir oorlewing na geboorte nodig is.

Chapter 2   Terminology

Menslike swangerskap duur gewoonlik ongeveer 38 weke soos gemeet vanaf die oomblik van bevrugting, tot en met geboorte.

Gedurende die eerste 8 weke na bevrugting, word die ontwikkelende mens 'n embrio genoem, wat "binne-in opswel" of "binne-in groei" beteken. Hierdie embrionale stadium word deur die vorming van die belangrikste liggaamstelsels gekenmerk.

Vanaf die eerste 8 weke verby is totdat die swangerskap tot 'n einde kom, word die ontwikkelende mens 'n fetus genoem, wat "ongebore afstammeling" beteken. Gedurende hierdie tydperk - die fetale fase - word die liggaam groter en begin die liggaamstelsels werk.

Elke embrionale en fetale leeftyd word in hierdie program vanaf die oomblik van bevrugting gemeet.

The Embryonic Period (The First 8 Weeks)

Embryonic Development: The First 4 Weeks

Chapter 3   Fertilization

Biologiese gesproke, "begin menslike ontwikkeling met bevrugting", wanneer 23 van die man se chromosome, en 23 van die vrou s'n, tydens die vereniging van hul voortplantingselle bymekaar gevoeg word.

'n Vroulike voortplantingsel word gewoonlik 'n "eiersel" genoem; die wetenskaplike term hiervoor is "oösiet".

Net so staan 'n man se voortplantingselle gewoonlik as "spermselle" bekend, maar word dit verkieslik eerder spermatosoë genoem.

Nadat 'n oösiet deur die vrou se eierstok vrygelaat is, tydens 'n proses genaamd ovulasie, smelt die oösiet en spermatosoön binne-in een van die baarmoederbuise saam. Hierdie buise word soms ook die Fallopiese buise genoem.

Die baarmoederbuise verbind 'n vrou se eierstokke met haar baarmoeder, of uterus.

Die enkelsellige embrio wat so ontstaan word 'n sigoot genoem, wat "aanmekaargelas" beteken.

Chapter 4   DNA, Cell Division, and Early Pregnancy Factor (EPF)

Die sigoot se 46 chromosome maak die unieke eerste uitgawe van 'n nuwe individu se volledige genetiese bloudruk uit. Hierdie meesterplan is in styf opgerolde molekules opgeteken, wat deoksiribo-nukleïen-suur genoem word. DNS bevat die instruksies waarvolgens die hele liggaam sal ontwikkel.

DNS molekules lyk soos gedraaide lere, wat as dubbele helikse bekend staan. Elke trappie van so 'n leer bestaan uit afgepaarde molekules, of basisse, genaamd guanien, sitosien, adenien en tiamien.

Guanien kom slegs saam met sitosien voor, en adenien slegs saam met tiamien. Elke menslike sel bevat ongeveer 3-miljard sulke basispare.

'n Enkele sel se DNS bevat soveel inligting dat, deur net die eerste letter van elke basis te gebruik, meer 1.5-miljoen bladsye sou nodig wees om dit alles neer te skryf!

Indien die DNS van 'n enkele menslike sel lankuit van begin tot einde uitgelê kon word, sou dit 'n hele meter lank wees.

As al die DNS in 'n volwasse mens se 100-triljoen selle oopgerol kon word, sou dit meer as 'n 100-miljard kilometer lank wees. So ver soos 340 keer son toe en terug.

Ongeveer 24 tot 30 uur na bevrugting voltooi die sigoot sy eerste selverdeling. Een sel verdeel in twee, twee in vier, en so voorts, tydens 'n proses genaamd mitose.

Swangerskap kan reeds so vroeg as 24 tot 48 uur na bevrugting bevestig word, wanneer die teenwoordigheid van "vroeë swangerskapsfaktor"-hormone, in die moeder se bloed bespeur kan word.

Chapter 5   Early Stages (Morula and Blastocyst) and Stem Cells

Die embrio se verdelende selle neem 3 tot 4 dae na bevrugting 'n sferiese vorm aan, en word die embrio 'n morula genoem.

Teen 4 tot 5 dae vorm 'n holte binne-in die bal vol selle en word die embrio 'n blastosist genoem.

Die selle binne-in die blastosist word die binneste selmassa genoem en is die voorganger van die kop, liggaam, en ander strukture wat nodig is om 'n mens te vorm.

Die selle binne-in die binneste selmassa word embrioniese stamselle genoem, want hulle beskik oor die vermoë om elkeen van die meer as 200 soorte selle wat in die menslike liggaam voorkom, te vorm.

Chapter 6   1 to 1½ Weeks: Implantation and Human Chorionic Gonadotropin (hCG)

Na sy reis deur die baarmoederbuis, gaan sit die embrio teen die binnewand van die moeder se baarmoeder vas. Hierdie inplantingsproses begin teen 6 dae na bevrugting en eindig teen 10 tot 12 dae.

Die groeiende embrio se selle begin om menslike chorioniese gonadotropien (MCG) af te skei, die hormoon wat meestal tydens swangerskaps- toetse opgespoor kan word.

MCG veroorsaak dat swangerskapshormone die normale menstruasie-siklus onderbreek, sodat die swangerskap voortgesit kan word.

Chapter 7   The Placenta and Umbilical Cord

Na inplanting, begin die selle op die buiterand van die blastosist om 'n struktuur genaamd die plasenta te vorm, wat as geleier tussen die moeder en die embrio se bloedvaatstelsels sal dien.

Die plasenta voorsien suurstof, voedingstowwe, hormone en medikasie vanaf die moeder na die ontwikkelende mensie; dit verwyder ook alle afvalprodukte en verhoed dat die moeder se bloed met dié van die embrio of fetus meng.

Die plasenta produseer ook hormone en sorg dat die embrio of fetus se liggaamstemperatuur effens hoër as dié van die moeder s'n bly.

Die plasenta se kommunikasiekanaal met die ontwikkelende mensie is die bloedvate wat in die naelstring voorkom.

Die plasenta se vermoë om lewe te onderhou stof selfs dié van intensiewesorg-eenhede by moderne hospitale uit.

Chapter 8   Nutrition and Protection

Teen 1 week, vorm die binneste selmassa se selle twee lae, genaamd die hipoblast en die epiblast.

Die hipoblast gee vorm aan die dooiersak, een van die strukture waardeur die moeder voedingstowwe aan die vroeë embrio verskaf.

Selle uit die epiblast vorm die eiervlies, of amnion, waarin die embrio, en later die fetus, tot met sy geboorte sal ontwikkel.

Chapter 9   2 to 4 Weeks: Germ Layers and Organ Formation

Teen ongeveer 2½ weke vorm die epiblast drie spesiale weefsels, of kiemlae, naamlik die ektoderm, endoderm, en mesoderm.

Talle strukture vorm in die ektoderm, insluitend die brein, rugmurg, senuwees, vel, naels, en hare.

Die endoderm produseer die voering van die asemhalingstelsel en die spysverteringskanaal, en genereer gedeeltes van belangrike organe soos die lewer en pankreas.

Die mesoderm vorm die hart, niere, beendere, kraakbeen, spiere, bloedselle en ander strukture.

Teen 3 weke verdeel die brein in drie primêre dele; die voorbrein (presenkefalon), midbrein (mesenkefalon) en agterbrein (rombenkefalon).

Die asemhalings- en spysverteringstelsels begin ook ontwikkel.

Wanneer die eerste bloedselle in die dooiersak verskyn, begin bloedvate dwarsdeur die embrio vorm, en verskyn die buisvormige hart.

Byna onmiddellik begin die vinnig-groeiende hart inmekaar vou, soos afsonderlike hartkamers begin ontwikkel.

Teen 3 weke en 1 dag na bevrugting begin die hart klop.

Die bloedvaatstelsel is die eerste liggaamstelsel, of verwante groep organe, wat 'n werkende toestand bereik.

Chapter 10   3 to 4 Weeks: The Folding of the Embryo

Tussen 3 en 4 weke word die liggaamsplan duidelik wanneer die embrio se brein, rugmurg, en hart maklik langs die dooiersak geïdentifiseer kan word.

Vinnige groei veroorsaak dat die taamlike plat embrio ineenvou. Tydens hierdie proses versmelt 'n deel van die dooiersak met die spysverteringstelsel se voering en word die bors- en buikholtes van die ontwikkelende mens gevorm.

Embryonic Development: 4 to 6 Weeks

Chapter 11   4 Weeks: Amniotic Fluid

Teen 4 weke omring die deurskynende amnion die embrio in sy voggevulde sak. Hierdie steriele vloeistof, wat vrugwater of amnionvog genoem word, beskerm die embrio teen moontlike beserings.

Chapter 12   The Heart in Action

Die hart klop gemiddeld teen 113 slae per minuut.

Let op hoe die hart van kleur verander soos bloed die hartkamers met elke hartklop binnevloei en verlaat.

Die hart sal ongeveer 54-miljoen keer voor geboorte klop; dit sal meer as 3.2-miljard slae tydens 'n lewensduur van 80 jaar gee.

Chapter 13   Brain Growth

Vinnige breingroei kan gesien word soos die voorbrein, midbrein, en agterbrein verander.

Chapter 14   Limb Buds

Die boonste en onderste ledemate begin ontwikkel wanneer die ledemaatknoppe teen 4 weke hul verskyning maak.

Die vel is nog deursigtig omdat dit net een sel dik is.

Soos die vel dikker word, sal dit al hoe minder deursigtig word, wat beteken dat ons die interne organe vir nog net 'n maand sal kan sien ontwikkel.


Add a Comment

Your Name: Log In 3rd-party login: Facebook     Google     Yahoo

Comment: